OKULOPLASTIESE CHIRURGIE:
‘n Veilige oplossing vir ooglidkwale
Okuloplastiese chirurgie verjong en herstel nie net die gedeeltes rondom die oog nie. Dit behandel ook verskeie ooglidprobleme, waaronder slaphangende ooglede, gewasse, en trauma weens beserings. Dit kan visie verbeter en selfvertroue aanspoor.
Wat is okuloplastiese chirurgie?
Dit is ’n subspesialiteit van oftalmologie wat fokus op die stukture omliggend tot die oog, waaronder die ooglede, oogkas en traanbuise.
Toestande wat met dié prosedure behandel word
– Slaphangende ooglede (blefaroptose)
– Oortollige ooglid vel (dermatochalase)
– Ooglede wat na binne draai (entropion) en ‘n ektropion-operasie herstel ’n ooglid wat na buite draai.
– Gewasse aan die ooglid
– Gewasse aan die oogkas
– Traanbuis-obstruksies
– Skildklier-oogsiekte
– Rekonstruksie van ooglede na trauma, kanker of selfs aangebore defekte.
Wie is goeie kandidate?
– Persone met slaphangende ooglede wat perifere visie belemmer.
– Persone met ooglid wanposisies wat lei tot ongemaklike rooi oë of oormatige trane.
– Persone wat rekonstruksie na kanker of weens aangebore defekte benodig.
– Trauma-slagoffers en diegene wat ooglid-rekonstruksie benodig na verwydering van velkanker.
– Gesonde volwassenes wat kosmetiese verbeteringe soek.
‘n Deeglike evaluering deur ’n okuloplastiese chirurg is noodsaaklik om te bepaal wie geskikte kanidate is.
Risiko’s en potensiële komplikasies
Die Chirurgie is betreklik veilig. Daar is wel sekere risiko’s aan verbonde, waaronder:
– Infeksie
– Bloeding
– Littekens
– Sommige pasiënte rapporteer gevoelloosheid of veranderde sensasie rondom die chirurgiese area.
– Pasiënte kan droë oë of tydelike visie-veranderinge ervaar.
– Asimmetrie tussen die oë is moontlik enpasiënte kan sukkel om hul oë toe te maak.
Dit is noodsaaklik dat pasiënte hierdie risiko’s deeglik met hul chirurg bespreek voor die prosedure, aangesien die waarskynlikheid van komplikasies wissel na gelang an die spesifieke prosedure en individuele faktore.
Wat kan pasiënte tydens en na die operasie verwag?
Okuloplastiese chirurgie duur een tot drie uur onder lokale verdowing met sedasie, of soms algemene narkose.
Pasiënte kan wasige visie, ligte ongemak, kneusing en swelling ervaar. Die eerste week behels rus, die gebruik van koue kompresse, en die toediening van voorgeskrewe oogsalf of oogdruppels. Daarna kan ‘n mens ’n geleidelike terugkeer na aktiwiteite verwag soos die swelling afneem. Pasiënte moet hul chirurg se postoperatiewe instruksies noukeurig volg vir optimale herstel en resultate.
Die sigbaarheid van resultate na okuloplastiese chirurgie wissel na gelang van die prosedure en individuele faktore.
Okuloplastiese chirurgie is ‘n subspesialiteit wat fokus op die behandeling van die ooglede, oogkas en traanbuise, met die doel om beide funksionele en estetiese verbeteringe aan te bring.
Bron: Dr. Margot Steenkamp, ‘n aftalmoloog verbonde aan die Cape Eye Hospital