Katarakchirurgie: Dis wat jy moet weet

Chirurgie aan jou katarak.

Wanneer die lens sy helderheid verloor, word die lens ‘n katarak genoem. Chirurgie is nodig sodra ‘n pasiënt voel dat hulle nie meer goed genoeg kan sien nie. Tipies begin pasiënte sukkel met bestuur en televisie kyk. Geen ander behandeling anders as ‘n lensvervanging is huidiglik beskikbaar nie.
Met behulp van die kunslense is pasiënte oor die algemeen baie minder afhanklik van ‘n bril en is katarak-chirurgie eerder iets om na uit te sien as op te sien.

Hoe ontwikkel katarakte?

Katarakte kan aangebore wees na oogtrauma plaasvind, kan ontwikkel weens die gebruik van medikasie
soos kroniese kortisoon en weens toestande soos diabetes.
Oor die algemeen ontwikkel katarakte ( dowwe lense ) in die meeste mense geleidelik van ongeveer 60 jarige ouderdom.

Berei so voor vir chirurgie

Pasiënte kan die dag van die chirurgie gewoonlik ‘n ligte ontbyt eet en al hul chroniese medikasie insluitend bloedverdunning neem.

‘n Katarak is ‘n dowwe area in die lens van die oog wat lei tot ‘n afname in visie. Katarakte ontwikkel stadig en kan een oog of albei oë affekteer.

So Werk Dit

Die Operasie

Die dowwe lens word met behulp van ultraklank opgebreek in klein stukkies en dan verwyder deur ‘n ongeveer 2mm wond in die kornea.
Die nuwe kunslens word dan deur dieselfde wond ingesit.
Die operasie duur gewoonlik ongeveer 20 minute en pasiënte spandeer ongeveer 3 ure by die hospitaal.

Wat gebeur by die hospitaal?

Met behulp van ‘n masjien word bepaal watter sterkte lens ingeplaas moet word. ‘n Groot verskeidenheid lenstipes is beskikbaar wat die oftalmoloog met die pasiënt sal bespreek. Druppels word dan deur die verpleegpersoneel ingegooi om die pupil te vergroot en om die oog te verdoof. Die pasiënt ontmoet dan die narkotiseer wat seker maak dat die oog verdoof is en sedasie word gegee om die pasiënt ontspanne te laat voel tydens die chirurgie.

Wat gebeur tydens chirurgie?

Die pasiënt lê op ‘n gemaklike bed waar hul oftalmoloog sal seker maak dat die oog verdoof is en dat die pasiënt ontspanne is. Die oog wat nie geopereer word nie, word toegemaak en ‘n oogspalkie word gebruik om die oog wat geopereer word,  oop te hou.
Al wat die pasiënt sien tydens die chirurgie, is skerp liggies van die mikroskoop waardeur die oftalmoloog werk.

Na chirurgie

Oogbeskerming in die vorm van ‘ n oogkussing en/of ‘n plastiekklappie word daarop geplaas. Gewoonlik kry die pasiënt dan ‘n lekker koppie koffie of tee en ‘n broodjie.
Voordat pasiënte huis toe gaan, kry hulle oogdruppels waarmee hulle die volgende dag moet begin en wat hulle ‘n aantal weke sal gebruik.

Newe effekte

Droë oë

Pasiënte sukkel soms na die chirurgie met droë oë en skerp lig.

Traanaanvulling

‘n Traanaanvulling kan gebruik word indien ‘n pasiënt las het van droë oë en ‘n sonbril werk goed indien die pasiënt sukkel met skerp lig.

Risiko

Die risiko vir komplikasies na katarakchirugie is klein maar moontlik, soos met enige chirurgie.

You might also like…

Pas jou oë soos juwele op

Pas jou oë soos juwele op

Volgens Jeanette du Plessis is 'n mens weerloos wanneer jy jou sig verloor. Daarom sê sy is dit so belangrik dat jy...

Sō tas gloukoom jou oë aan

Sō tas gloukoom jou oë aan

Gloukoom is een van die vele oogsiektes wat jy kan opdoen soos jy ouer word. Gloukoom is 'n groep oogsiektes wat die...