Volgens Jeanette du Plessis is ‘n mens weerloos wanneer jy jou sig verloor. Daarom sê sy is dit so belangrik dat jy jou oë baie mooi moet versorg.
Gloukoom is die hoofoorsaak van onomkeerbare blindheid wêreldwyd en raak meer as 80 miljoen mense oor die wêreld heen, volgens Wêreldgloukoomweek.
In baie gevalle kan gloukoom asimpromaties wees, wat beteken dat jy nie simptome ervaar nie en die helfte van diegene wat saam met gloukoom leef, is onbewus daarvan dat hulle dit het. Jeanette du Plessis gesels oor haar pad met die ernstige oogsiekte..
Die Suid-Afrikaanse Gloukoomvereniging beskryf gloukoom as ‘n groep oogsiektes waar druk in die oog die optiese senuwee beskadig.
Die optiese senuwee is noodsaaklik vir sig, want dit dra al die inligting van jou oog na jou brein.
Sodra die optiese senuwee beskadig is, kan dit nie herstel word nie en indien dit nie onmiddelik behandel word nie, kan dit jou blind laat.
Volgens die Wêreldgloukoomweek het familielede van diegene met gloukoom ‘n tienvoudige risiko om self gloukoom te kry met een uit 200 mense van 40 jaar wat gloukoom het, wat tot een uit agt styg teen die ouderdom van 80.
Wêreldgloukoomweek word jaarliks van 12 tot 18 Maart gevier om bewusmaking oor die siekte te help skep en mense aan te moedig om hulle daarvoor te laat toets.
Pas jou oë op
Jeanette du Plessis (65) van Bellville vertel dat sy sedert haar diagnose in 2012 haar oë soos juwele oppas.
“Jy weet, mense aanvaar hul sig as vanselfsprekend, maar jy moet eintlik dankbaar wees dat jy elke oggend wanneer jy opstaan nog kan sien.
“Omdat ek amper heeltemal doof is in my regteroor en 50% in my linkeroor, moet ek gehoorapparate dra. Om nog boonop my sig ook te verloor, sal moeilik wees. Dit gaan dan beteken dat ek twee van my belangrikste sintuie verloor.
“Ek is ‘n kunstenaar, so, as ek my sig moet verloor, sal ek nie meer kan skilder nie. Daarom is dit vir my so belangrik dat ek mooi na my oë omsien sodat ek nie my sig verloor nie.” sê sy.
“Sedert my diagnose gebruik ek elke dag my druppels wat die dokter vir my voorgeskryf het en ek mis nie ‘n dag nie! Jou oê is so ontsettend kosbaar, maar al jou sintuie is. Ek gebruik my oë nie net om te sien nie, maar ook om te observeer, te sien hoe mense reageer as ek met hulle gesels, en omdat ek doof in my een oor is, lees ek ook lippe.
“Dus sal ek baie weerloos voel as ek my sig moet verloor. Maar jy voel ook weerloos as jy enige van jou ander sintuie verloor.”
Jeanette sê dit is vir haar glad nie moeilik om met gloukoom saam te leef nie, want vir haar is dit soos tweede natuur om haar oogdruppels elke dag te gebruik.
“As ek dit nie doen nie, kan ek my sig heeltemal verloor. Ander sê dit is so moeilik om elke dag te onthou om jou oogdruppels te gebruik, maar vir my is dit soos om my tande te borsel. Ek vergeet dit nooit.”
Jeanette voeg by dat sy ‘n spesiale sakkie met al haar druppels en ander medikasie het vir haar reis na Amerika later vandeesmaand.
“Dit is hoe belangrik my oë vir my is. En omdat ek so ver weg van my dokter af gaan wees en ek nie vinnig na hom toe kan gaan as ek probleme ervaar nie, het ek alles by my om enige probleem met my oë met ‘n druppel of antibiotika reg te stel,” voeg sy by.
Haar diagnose ‘n positiewe ervaring
Volgens Jeanette was sy verbaas toe gloukoom in 2012 by haar gediagnoseer is, maar dit was nie haar eerste keer dat sy van die siekte gehoor het nie.
“Ek het altyd goeie sig gehad, so ek het die diagnose glad nie verwag nie, hoewel my pa gloukoom het. Ek het gloukoom, maar my broers en susters het dit glad nie. Dit is nie ‘n oorerflike oogsiekte nie.” verduidelik sy.
Jeanette vertel haar diagnose was ietwat van toevallig omdat sy eendag gedurende haar pilates oefening vooroor gebuig het en toe sy opkom iets soos ‘n wit lig haar een oog ervaar het.
“Dit was nie donker nie, ek het net spierwit lig gesien terwyl ek my oê oop en toe geknip het. Ek het later begin kleure sien en dit het sowat 20 minute geduur.”
Sy het onmiddelik na haar huisdokter gegaan waarna hy haar na dr. Etienne van Aswegen van die Kaap Ooghospitaal verwys het.
En omdat die twee dokters se kantore ‘n klipgooi van mekaar af is, het sy onmiddellik na die ooghospitaal gegaan.
“Dr. Van Aswegen is ‘n fantastiese dokter en baie professioneel. Met my aankoms het hy reeds vir my gewag.
“Hy het gesê voordat hy na my gaan kyk, moet ek eers aan vir ‘n Doppler-ultraklank ( tegnologie wat bloedvloei aandui) om seker te maak daar is geen obstruksie in my nek wat die bloedvloei na my oë kan belemmer.
“Daarna is ek na ‘n kardioloog om vas te stel of ek nie dalk ‘n bloedvloei-probleem het nie. Hulle kon nie by enige van hierdie toetse probleme vind nie, en ek het dadelik geweet dat ek gloukoom het.
“Toe dr. Van Aswegen die nuus aan my oordra, was dit vir my nie so erg nie, want hy het dit so mooi oorgedra en verduidelik.
“Ek het veilig gevoel in daardie spreekkamer en het geweet dat die dokter ‘n pad saam met my sal loop met die oogsiekte en dat hy alles in sy vermoë sal doen om my te behandel.
“Dit was vir my ‘n baie positiewe ervaring en ek het geen angs ervaar in daardie tyd nie,”
Jeanette is met geslotehoekgloukoom gediagnoseer. Die soort gloukoom is skaars. Dit ontstaan vinnig en word deur geblokkerde dreineringskanale veroorsaak.
Al 10 jaar op behandeling.
Jeanette sê dr. Van Aswegen het in 2012 vir haar dadelik op behandeling gesit en sy kan nie glo hulle loop al tien jaar lank saam ‘n pad nie.
“Ek gebruik twee soorte oogdruppels, naamlik Ganfort vir die drukking, wat ‘n betablokker bevat om die aura-skeelhoofpyn te behandel, en Azoptic vir daaglikse ondersteuning vir my oogsenuwee.”
Hy het ook met ‘n laser gaatjies in die irisse van albei haar oë geskiet waardeur die vog kan loop as die druk agter haar oë te hoog word. ‘n Lensvervanging is ook gedoen om haar sig te verbeter.
Wees bewus van gloukoom.
Jeanette sê mense moenie bang wees om na die dokter te gaan wanneer hulle probleme met hul oë ervaar nie.
“Om jou sig te verloor, kan ‘n geweldige impak op jou hê. Dit is belangrik om bewustheid te skep oor gloukoom omdat ek weet watter impak dit het.
“Doen jouself ‘n guns en lees op oor gloukoom. Maar die belangrikste is om gereeld vir oogtoetse te gaan sodat jy onmiddelik met behandeling kan begin as jy wel gloukoom het.”