Sō tas gloukoom jou oë aan

Gloukoom is een van die vele oogsiektes wat jy kan opdoen soos jy ouer word. Gloukoom is ‘n groep oogsiektes wat die optiese senuwee beskadig. Die optiese senuwee stuur visuele informasie na die brein en is belangrik vir goeie sig.
Beskadiging van die optiese senuwee word gewoonlik veroorsaak deur hoë oogdruk, maar daar kan ook gevalle van skade met ‘n normale druk voorkom.

Vier Hoofsoorte gloukoom

Oophoekgloukoom:

Dit is waar die gewone dreineringshoek oop is, maar daar is iets wat die normale funksionering van dreinering verminder. Dit is die “stille” gloukoom wat stadig en onopgemerk skade aan die senuwee veroorsaak.

Toehoekgloukoom:

Komplikasies met die dreineringshoek. Akute toehoek-gloukoom kom vinnig aan met simptome van hoofpyn, rooi oë en wasige visie.
Toehoek-gloukoom is ‘n mediese noodgeval.

Kongenitale gloukoom:

Aangebore dreineringshoek komplikasies.

Sekondêre gloukoom:

Dit is enige vorm van gloukoom (oop- of toehoek) waar daar ‘n identifiseerbare oorsaak is soos byvoorbeeld trauma of inflammasie.

Risikofaktore

  • Ouderdom bo 40 jaar.
  • Familiegeskiedenis van gloukoom. Daar is tot 10% verhoogde kans as daar ‘n broer, suster of ouer is met gloukoom.
  • Mediese toestande soos diabetes, migraine, hoë bloeddruk en die gebruik van kortisoon medikasie.
  • Vorige oogtrauma.
  • Ekstreme bysiendheid of versiendheid.

Hoekom is gloukoom so gevaarlik?

Daar is nie duidelike simptome nie.
Die diagnose word meestal opgetel gedurende ‘n roetineondersoek vir ‘n bril of ander oogprobleem.
Vertraging in die diagnose en behandeling kan tot oogsenuskade lei.
Omdat daar nie simptome is nie, kan ‘n pasiënt dalk nie die erns van die siekte verstaan nie en derhalwe nie die medikasie gereeld gebruik nie.
Die skade wat deur die gloukoom veroorsaak word, is permanent.
Onbehandelde gloukoom sal lei uiteindelik tot blindheid.

Moenie die mites glo nie

Mite 1: Gloukoom is ‘n siekte van bejaardes.
Feit: Hoewel ‘n hoë ouderdom ‘n risiko vir gloukoom is, kan dit op enige ouderdom gediagnoseer word.

Mite 2: Te veel tyd voor ‘n rekenaar of ooreising van jou oë kan tot gloukoom lei.
Feit: Gloukoom is ‘n strukturele probleem en kan nie deur ooreising verander word nie.

Mite 3: Gloukoom veroorsaak pyn in die oë
Feit: Die meeste gloukoompasiënte het geen simptome nie. Indien hoë druk nie gediagnoseer word nie, is daar geleidelike verlies in visiuele veld wat later opgetel word as “tonnelvisie”. Dit is waar die randvisie permanent ingekort is. In akute toehoekgloukoom, waar daar ‘n vinnige verhoging in oogdruk voorkom, kan daar pyn, rooiheid en wasige visie voorkom.

Watter behandeling moet jy kry?

Oogdruppels:

Verskeie molekules en tipes wat of die produksie van oogvog verminder of die dreinering van oogvog verbeter.

Katarak-chirurgie of lensvervanging:

‘n Operasie kan ook laer druk in die ook bewerkstellig.

Laserprosedures

soos trabekuloplastie wat oophoekgloukoom behandel. Dit gebruik ‘n laserstraal wat op die trabekulêre netwerk gerig word – die klein kanaaltjies wat die oogvog dreineer.

Operasies soos MIGS

( minimale indringende gloukoom-chirurgie). Dit is die gebruik van kleinsnit-chirurgie waar stents of klein pypies ingeplant word wat die uitvloei van vog uit die oog vermeerder.

'n Trabekulektomie

is ‘n groter prosedure wat druk verlaag waar ‘n direkte uitvloei deur middel van ‘n dreineringsklep of uitvloeistent gebruik word.

You might also like…

Pas jou oë soos juwele op

Pas jou oë soos juwele op

Volgens Jeanette du Plessis is 'n mens weerloos wanneer jy jou sig verloor. Daarom sê sy is dit so belangrik dat jy...